Johan Matthys Walters:

Ons bring hulde aan jong slagoffer van die Brandfort- konsentasiekamp.

 

 

Nicolaas Walters

 
 

 Schalk Willem Walters, kleinseun van stamouer Matthys Michielse en Maria Elizabeth Petronella van der Merwe van die plaas Waterklip naby Vredenburg, is waarskynlik die eerste Walters wat hom buite die Kaapkolonie gevestig het. Schalk is gebore op 14 Oktober 1868 en het grootgeword op die plaas Waterklip.  Schalk was 18 jaar oud toe sy vader oorlede is. Schalk het £125 geërf en teen hierdie agtergrond besluit om homself as onderwyser te bekwaam. Onderwysposte was maar skaars in daardie tyd en hy het heel waarskynlik sy eerste aanstelling in die Vrystaat gekry. Schalk Willem het in Boshof in die Vrystaat in die huwelik getree met Magdalena Johanna Ebersohn, wat in Kimberley gebore is.

 Hulle eerste seun, Schalk Willem, is gebore op 28 Augustus 1896 op Hoopstad, wat daarop dui dat Schalk op Hoopstad of op omringende plase onderwys gegee het of selfs ook geboer het. Sy derde kind, Johan Matthys, is gebore in Junie 1899 op Kareepan in die Hoopstad-distrik, kort voor die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog. Dit blyk dus dat Schalk woonagtig was op die plaas Kareepan naby Hoopstad. Johan Matthys is vernoem na Schalk se skoonpa, Johan Matthys Ebersohn, woonagtig op Brandvlei.

Johan Matthys is een van 22 000 kinders wat in die konsentrasiekampe gesterf het: hy is op 4 September 1901 as tweejarige dood weens masels en longontsteking in die Brandfort-konsentrasiekamp. Dit is waarskynlik dat Magdalena Ebersohn en haar drie jong kinders, Schalk Willem, Maria Catharina en Johan Matthys, gevange geneem is op Kareepan en na die Brandfort-konsentrasiekamp gestuur is. Dit is onseker waar Schalk Willem gedurende hierdie tyd was. Hy het egter sy seun se sterfkennis in 1901 geteken, wat daarop dui dat hy in die omgewing was.

Die kamp in Brandfort is eers in Maart 1901 opgerig, wat aandui dat Magdalena en haar kinders ná Maart in die kamp opgeneem is. Die bevolking van die kamp het baie vinnig toegeneem. In April was daar 1022 inwoners en ’n jaar later was dit die tweede grootste kamp in die Vrystaat met 4128 inwoners103. Hierdie vinnige toename het gepaard gegaan met onvoldoende huisvesting, kosgebrek en ander haglike toestande, wat bygedra het tot die “Swart Oktober” van 1901. Uit ’n bevolking van 3860 het 375 daardie maand gesterf. Johan se sterfte in September is deel van hierdie tragiese ramp. Die sterframp het die owerhede laat wakkerskrik en die kamp is na ’n beter plek verskuif. Beter voorsiening van lewensmiddele, beter huisvesting en mediese sorg het bygedra dat die sterftesyfer dramaties begin daal het. Die Engelse heldin, Emily Hobhouse, het deur haar veroordeling van die wantoestande in hierdie kamp veel bygedra tot die verbetering. ’n Tuin is geskep in herinnering van die vroue en kinders wat slagoffers was van dié kamp. Dit is dus gepas om die senotaaf se hartroerende aanhaling ook op te dra aan Magdalena en Johan:

 “Rus in vrede tere bloeisels,

Offer van die storm

Want uit welke moedertrane

Is die steen gevorm”  

Na die Tweede Vryheidsoorlog het Schalk na Bultfontein getrek. Hy en Magdalena het nog vyf kinders in die lewe gebring. Magdalena is op 17 Januarie 1940 in Kroonstad oorlede en Schalk drie jaar later op 2 September 1943, in Auckland Park, Johannesburg.