|  |  |   Die vaart van 
    enige VOC-skip en al die passasiers en beamptes  (“opvarendes”) word 
    aangeteken in ‘n aparte boek, die Skeepssoldyboek.  Twee identiese 
    eksemplare word gemaak.  Die eerste word gedeponeer in die Batavia argief 
    met die aankoms van die skip en ‘n tweede word na die betrokke Kamer (een 
    van die ses groepe in die VOC) in die vaderland (Patria) gestuur.  Die 
    Assendelft het onder die kamer van Amsterdam uitgevaar.  Slegs ‘n paar boeke 
    in die laat 17 de eeu het behoue gebly waarvan die Assendelft se vaart in 
    1695 na Ceylon gelukkig een van hierdie  boek was wat in die Den Haagse 
    Rijksargief besigtig kan word.   In die soldyboek verskyn ‘n magdom van 
    inligting van elke opvarende in twee kolomme gemerk debiet en 
    krediet. Die inligting sluit onder andere in: voornaam, van, stad van 
    herkoms, rang by aanstelling, salaris (gagie), toerusting verskaf, 
    duur van reis, testament (maandceel), totale koste vir VOC, skuld en 
    betalings aan familie in Nederland, laaste uitkering, uitleen van amptenaar, 
    datum wanneer opvarende ‘n vryburger word (of diens verlaat/terugkeer) en 
    sterfdatum1.    Van Samuel Walter se inskrywing in die 
    Skeepssoldyboek van die Assendelft (1695)2 kan heelwat 
    interessante inligting gekry word wat in baie gevalle nie in ander bronne 
    beskikbaar is nie.  Die volledige inskrywing vir Samuel word links getoon ( 
    druk op die dokument om 'n vergroting te kry).  Hierdie is dan ook die 
    oudste bron en eerste verwysing na Samuel Walter van Prespoort.  Twee maande 
    se salaris (gagie) van 18 Gulde word in Samuel se hand gestop voor sy 
    vertrek. Samuel koop die verpligte uitrusting vir 150 Gulde en leen die geld 
    by die VOC.  Samuel skuld dus 168 Gulde aan die VOC nog voor hy vertrek!  
    Daar is feitelik geen inligting oor Samuel se tyd in Amsterdam en omgewing. 
    Volgens die skeepssoldyboek skuld Samuel geld aan ‘n sekere Jan van den 
    Bergh (67 Gulde) en Engeltje(n) Andries (76 Gulde) wat van sy salaris 
    afgetrek word en deur die VOC betaal word in 1698,1699  en 1700.  Jan van 
    Den Bergh word slegs een maal betaal terwyl die vrou, Engeltje, oor al drie 
    jare betaal word. Ons is nie seker of hy geld by hulle geleen het nie of dat 
    hy moontlik hulle goed geken het, of selfs by hulle gewoon/geloseer het in 
    Amsterdam.   Twee belangrike datums verskyn in die krediet (regterkant) 
    kolom, naamlik sy vryburger status op 24 Februarie 1711 en sy sterfdatum op 13 Desember 1725.  
    1          VOC 1.04.02, Indekse, p 113, Den Haag Argief. 
    2          VOC 1.04.02, Scheepssoldijboeken, 5428, Den Haag 
    Argief.   |  |